This page is a translated version of the page Wikispecies:Policy and the translation is 100% complete.

Hierdie is 'n lys van die beleide wat alle redakteurs moet navolg. Indien jy dit nalaat kan jy jou voorreg om te mag wysig verloor (verwys beleidstoepassing vir meer besonderhede).

Redaksiebeleid

Omdat wetenskap gedurig ontwikkel kan navorsing dikwels nuwe inligting blootstel wat ouer en gevestigde standpunte mag weerspreek. Daarom vra ons redakteurs om:

  • Beleefd te wees
    • Om onbeskof, ongevoelig of kleinlik te wees sal mense omkrap en maak dat Wikipedia nie goed werk nie. Probeer om ander te ontmoedig wanneer hulle onbeleefd optree, en wees versigtig om nie self mense per abuis te ontstig nie.
  • Redaksiegevegte te vermy
    • 'n Redaksiegeveg is wanneer twee of meer gebruikers met teenoorgestelde standpunte aanhoudend inhoud bylas wat hulle glo korrek is, en terselfdertyd die teenoorgestelde inhoud verwyder. Redakteurs word versoek om verskille aan te spreek op die toepaslike geselsblad deur middel van kompromie of konsensus. Julle mag ook 'n administrateur versoek om geskille te besleg.
  • Persoonlike aanvalle te vermy
    • Moenie persoonlike aanvalle maak nie, nêrens in Wikispecies nie. Reageer op die inhoud, nie die bydraer nie. Persoonlike aanvalle doen die gemeenskap skade aan en ontmoedig gebruikers daarvan om wysigings aan te bring. Niemand verdien om afgeknou te word nie.
  • Te aanvaar dat niemand enige artikels besit nie
    • Aanvaar dat, as jy 'n artikel skep of wysig, ander dit kan en sal wysig. Binne perke behoort jy hulle nie te verhinder om dit te doen nie.
  • Moet niks op besprekingsbladsye uitvee nie
    • Dit is belangrik om wysigings op besprekingsbladsye te behou vir toekomstige verwysing. Indien 'n besprekingsbladsy te lank word en daarom minder leesbaar is, argiveer asseblief die ouer materiaal eerder as om dit te verwyder.

Verwyderingsbeleid

Artikels wat aan een of meer van die volgende groeperings voldoen mag verwyder word indien:

  • Onsinnige bladsy
    • Bladsye wat nie hoort in die projek nie word gedefineer op die Wat Wikispecies nié is nie-bladsy. Sulke bydraes sluit in (maar is nie beperk tot) artikels wat slegs teks bevat, m.a.w. geen taksonnavigasie nie, wat deel van Wikipedia behoort te wees en summier uitgevee sal word.
  • Verkeerde sintaks of ontbrekende taksonomie
    • Bydraes met die verkeerde sintaks, of verkeerde of ontbrekende taksonomie, ens., sal gemerk word met {{NSF}} en sal na 15 dae geskrap word tensy dit reggemaak is of nog steeds onder bespreking is.
  • Kopieregskending
    • Dit is strydig met kopieregwette om inhoud eenvoudig vanaf 'n webwerf na Wikispecies oor te kopieër, tensy die webwerf 'n uitdruklike kopiereglisensie voorsien wat dit toelaat. Redakteurs moet bevestig dat 'n webwerf se lisensie versoenbaar is met Wikispecies se kopiereglisensie voordat hulle dit kopieër.
  • Wees geselsbladsye
    • Indien daar 'n geselsbladsy vir 'n artikel oorbly nadat die artikel self verwyder is, kan sodanige "wees" geselsbladsye summier uitgevee word.

Let wel: Bydraes met verkeerde formattering moet so gou as moontlik reggestel word, maar sal normaalweg NIE geskrap word nie, tensy die formatteringfoute die teks onleesbaar en onherstelbaar onverstaanbaar maak.

Betaalde wysiging

Konsensus van die Wikispecies-gemeenskap is dat daar geen vereiste is vir bydraers om betaalde bydraes openbaar te maak nie.

Administrateurs, ens.

Verwys na:

Beleidstoepassing

Ingeval van wangedrag deur redakteurs mag sodanige beleid toegepas word as wat nodig is om goeie orde in die gemeenskap te handhaaf.

Waarskuwing

  • Hierdie is nie verpligtend nie, maar is gewoonlik die beleefde eerste stap om 'n redakteur daaraan te herinner om behoorlik op te tree. 'n Aanvanklike waarskuwing mag deur 'n tweede gevolg word indien die redakteur daarin volhard om nie Wikispecies beleid en riglyne na te volg nie.

Skorsing

  • Gebruikers kan geskors word deur hulle wysigingsvoorregte op te skort vir 'n tydperk, of permanent, soos bepaal deur 'n administrateur. Geskorsde redakteurs het steeds toegang tot Wikispecies, maar kan geen wysigings aanbring nie. In gevalle waar die administrateur glo dat 'n redakteur duidelik kwaadwillig optree, is dit nie nodig om die redakteur te waarsku voor hulle skorsing nie.
  • Alhoewel die langtermyn-blokkering van IP-adresse redelik algemeen gebruik word om herhalende vandalisme deur geregistreerde en ingetekende gebruikers aan te spreek, word dit selde gebruik teen oningetekende gebruikers. Baie IP-adresse word dinamies toegeken en wissel gereeld van gebruiker, terwyl selfs vaste adresse van tyd tot tyd hertoegewys kan word, of meer as een gebruiker kan hê. In gevalle van langtermyn-vandalisme vanaf 'n besondere IP-adres, kan skorsing vir 'n tydperk van maande of jare oorweeg word, maar langtermyn-skorsing word nooit gebruik teen geïsoleerde insidente nie, ongeag die aard van die beleidsoortreding. IP-adresse wat gebruik word deur blatante vandale, fop-rekeninge of persone wat regsdreigemente maak word nooit vir lang tye geskors nie, tensy daar bewyse is dat dieselfe adres vir 'n lang tyd deur dieselfde gebruiker benut was. Sulke bewyse kan slegs verkry word deur 'n Wikispecies Checkuser, en so 'n ondersoek word net gebruik as die laaste uitweg in moeilike gevalle, maar aansoeke daarvoor kan hier gedoen word.
  • Oop instaanbedieners word gewoonlik by die Meta-Wiki Rentmeesters aangemeld en hulle sal dit wiki-wyd skors vir solank as wat dit waarskynlik oop gaan bly op dieselfde IP-adres, wat in die meeste gevalle waarskynlik net 'n paar maande sal wees. Aansoeke om skorsings teen sulke IP-adresse op te hef kan gerig word aan dieselfde Meta-Wiki Rentmeestersbladsy as hierbo.

Wanneer om nie te skors nie

Dit is belangrik om te onthou dat skorsing nie 'n strafmaatreël is nie. Skorsing moet nie gebruik word:

  1. as vergelding teen gebruikers;
  2. om gebruikers te verneder;
  3. of wanneer daar geen kommerwekkende gedragskwessies is nie.